Varkvleis is nie net een van die mees bekostigbare vleissoorte op Suid-Afrikaanse kosrakke nie, maar ook propvol geur en smaak. Boonop kan jy dit op byna enige manier gaarmaak wat jy verkies – van oondbraai tot bros gebak in ’n pan.
Maar hier is nou vir jou ’n nuwe plan: ontbeende varklende (pork loin) in ’n soutkors in die kole gebraai en voorgesit met ’n sampioensous. Dit klink dalk na ’n mondvol, maar glo my, jou gaste gaan dink jy is baie grênd!

FOTO Willem Lourens
Kyk die video hier:
Ontbeende varklende gebraai in soutkors met sampioensous
Vra jou slagter om die vark te ontbeen en te ontvel.
genoeg vir 6-8
• kole vir braai
• 1 groot stuk melkdoek (muslin), sowat 40 cm x 40 cm
• kombuistou
• 6 eierwitte
• 1 kg growwe seesout
• 12 salieblare
• 50 ml vinkelsaad
• 1 kg ontbeende varklende, vel verwyder
Sous
• 45 ml botter
• 3 knoffelhuisies, gekap
• 400 g bruinsampoene
• 350 ml room
• sout en varsgemaalde swartpeper
Vir voorsit
• baba-agurkies
• verskeidenheid mosterd, soos korrelmosterd en dijon
Maak vleis só gaar: Kry jou kole vuurwarm – maak genoeg sodat jy gedurende die braaiproses nog kan bysit. Meng eierwitte en sout saam. Plaas melkdoek op werkoppervlak en versprei soutmengsel oor doek, los sowat 3 cm rand reg rondom die doek oop. Pak salieblare op sout in middel van vierkant. Sprinkel vinkelsaad oor. Plaas varklende bo-op die soutkombers waar die kruie en speserye lê. Rol die melkdoek met sout stewig om varklende sodat die stuk vleis reg rondom met sout bedek is. Knoop die punte stewig vas met kombuistou om te seël. Plaas die rol direk op die warm kole en braai vir 20 minute, draai en braai verder vir nog 20 minute. Draai die vleis vier keer tot dit reg rondom gebraai het in die sout – dis ’n totaal van sowat 70-80 minute, gooi ekstra kole by indien nodig. Jy sal sien die lap brand swart en die sout word kliphard.
Maak die sous terwyl die vark braai: Verhit botter tot warm in groot pot en voeg knoffel en sampioene by. Roerbraai vir 5-8 minute of tot geurig. Gooi room by en verlaag hitte. Laat stadig prut vir 10 minute of tot romerige sous vorm. Verwyder van hitte en geur goed met sout en peper.
Sit só voor: Verwyder die varkrol uit die kole en plaas op skoon kapplank. Laat rus vir 10 minute. Verwyder melkdoek en gebruik ’n stok om die soutkombers oop te breek. Breek die sout af en gooi weg. Gebruik ’n kombuiskwas en stof sout van vleis af. Plaas op opdienbord en sny in skywe. Skep warm sous oor en sit voor met agurkies en mosterd.
* In samewerking met South African Pork.
The post Varklende gebraai in ’n soutkors appeared first on SARIE.