Dit verg ’n bietjie tyd, maar dis die moeite werd.
genoeg vir 9
- 500 g (890 ml) koekmeel
- 50 g (60 ml) strooisuiker
- 1 x 10 g-sakkie kitsgis
- 10 g sout
- 6 eiers
- 250 g ongesoute botter, in klein blokkies gesny
- 150 ml basiliekruidpesto
- 3 wiele fetakaas
- 1 eier, liggies geklits
Plaas koekmeel, suiker, gis, sout en eiers in elektriese menger se bak. Gebruik die K-mengspaan en meng die beslag sowat 8 minute op matige spoed totdat dit ’n stywe deeg vorm. Voeg botter bietjies-bietjies by tot alles ingemeng is. Die beslag sal ’n gladde voorkoms hê. Plaas mengsel in bak wat met olie gesmeer is. Bedek met kleefplastiek en laat rus oornag in yskas. Verhit oond tot 180 °C. Keer mengsel uit op meelbestrooide werkvlak en verdeel in 80 g-balletjies. Rol balletjies in worse van sowat 20 cm lank en druk effens plat. Smeer elke wors met ’n klein bietjie pesto en krummel feta oor. Rol op in spiraalvorm. Plaas in holte van kleefvrye kolwyntjiepan met 12 holtes. Laat rys op warm plek tot dubbel die volume, so 30 – 40 minute. Verf met geklitste eier en bak vir 20 – 25 minute of tot goudbruin. Sit louwarm voor.
The post Basiliekruid-rolletjies appeared first on SARIE.