Quantcast
Channel: Resepte – SARIE
Viewing all 270 articles
Browse latest View live

Tradisionele boeber

$
0
0

As jy hou van warm troos soos melkkos, moet jy hierdie Maleise weergawe probeer wat jy maak met vermicelli-noedels (kyk op die supermark se pastarak). Die rooswater maak hierdie gereg besonders.

genoeg vir 6-8

• 45 g (50 ml) botter

• 200 ml vermicelli-noedels

• 3 kardemompeule, oopgebreek

• 1 stuk pypkaneel

• 1,8 liter volroommelk

• 45 ml sago geweek in 100 ml melk vir ’n uur

• 100 g (125 ml) suiker

• 20 ml rooswater

• fyn kaneel vir voorsit

• 100 g pistasieneute, fyngekap

• roosknoppies vir garnering (opsioneel)

Smelt botter in ’n kastrol, breek noedels in stukkies en braai stadig tot goudbruin. Voeg res van bestanddele, behalwe rooswater, fyn kaneel en pistasieneute, by en roer tot suiker opgelos is. Laat prut sowat 25 minute of tot noedels sag en sago deursigtig is. Roer rooswater by en voeg ekstra melk by as dit te dik is na jou sin. Skep warm in bakkies en sprinkel kaneel, neute en roosknoppies oor.

Hierdie resep verskyn in SARIE se Augustus 2017-uitgawe

The post Tradisionele boeber appeared first on SARIE.


Hoender-en-garnaal-jambalaia

$
0
0

Jy kan ook die garnale uitlos as jy nie van seekos hou nie.

genoeg vir 6 – 8

45 ml olyfolie
1 ui, fyngekap
2 stingels seldery, fyngekap
1 elk rooi, geel en groen soetrissie, gekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
125 g chorizo-wors, ringe gesny
15 ontbeende hoenderdye
45 ml Cajun-speserye
400 g steurgarnale, skoongemaak
600 g (750 ml) witrys
500 ml hoenderaftreksel
1 x 410 g-blik gekapte tamaties
sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit olyfolie in middelslagpot. Voeg ui, seldery, soetrissies, knoffel en wors by. Braai 5 – 8 minute of tot begin verbruin. Voeg hoender en speserye by en braai nog 5 minute. Voeg garnale en rys by en braai 2 minute. Gooi aftreksel en tamaties oor en verlaag hitte. Laat stadig prut vir 20 – 25 minute of tot die rys gaar is. Geur goed met sout en peper. Sit warm voor.

The post Hoender-en-garnaal-jambalaia appeared first on SARIE.

Hoenderkerrie

$
0
0

Dié kerrie bak jy in die oond. Dis maklik en geurig.

genoeg vir 6 – 8

45 ml olyfolie
1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
30 ml heel komynsaad
20 ml koljander
30 ml heel vinkelsaad
3 lourierblare
6 kardemompeule, oopgebreek
45 ml borrie
60 ml masala
60 ml kerriepoeier
1 x 200 g-boksie tamatiepuree (passata)
1 x 400 ml-blik klappermelk
1 x 210 g-blik gekapte tamaties
16 hoenderstukke
sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit die oond tot 220 °C. Verhit die olyfolie in ’n middelslagpot tot goed warm – ek gebruik ’n 30 cm-pot sodat die vleis nie so op mekaar lê nie en gouer gaar word. Voeg die ui en knoffel by en roerbraai 2 minute of tot dit begin verbruin. Voeg al die speserye by en verlaag die hitte. Roerbraai 5 minute of tot lekker geurig. As dit lyk of die speserye wil begin brand, gooi ’n klein bietjie water by. Voeg die tamatiepasta by en braai nog 1 minuut. Voeg die klappermelk en tamaties by. Laat weer opkook en plaas die rou hoenderporsies in die sous. Geur goed met sout en peper en plaas toe in die oond. Bak 45 – 60 minute of tot die hoender goudbruin en gaar is. Sit voor met rys en jogurt.

The post Hoenderkerrie appeared first on SARIE.

Gebraaide garnale, rys en slaai

$
0
0

Die eenvoudigste kos is gewoonlik die lekkerste, die geheim van die resep is liefde.

genoeg vir 6 – 8

400 g (500 ml) witrys
1 000 ml hoenderaftreksel
sout en varsgemaalde swartpeper
45 ml olyfolie
2 knoffelhuisies, fyngekap
1 rooi brandrissie, fyngekap
36 steurgarnale, skoongemaak en doppe verwyder
1 hand vol pietersielie, fyngekap
sap en skil van 2 suurlemoene
sout en varsgemaalde swartpeper

Plaas rys en aftreksel in middelslagpot. Geur met sout en bring tot kookpunt. Laat kook tot rys gaar is en al die aftreksel geabsorbeer is. Hou eenkant. Verhit olyfolie tot warm in groot braaipan. Voeg knoffel en rissie by. Roerbraai 1 minuut. Voeg garnale by en braai tot goudbruin en byna gaar, sowat 8 – 10 minute. Voeg pietersielie, sap en skil van suurlemoen by. Geur goed met sout en peper. Skep rys in opdienbord en skep garnale en pansous oor. Sit warm voor.

The post Gebraaide garnale, rys en slaai appeared first on SARIE.

Crunchies

$
0
0

Tradisioneel word die hawermout-koekies in blokkies gesny ná dit gebak is. Ek bak dit in ’n kolwyntjiepan sodat dit ’n mooier vorm het.

genoeg vir 24

250 g (270 ml) botter
50 ml gouestroop
210 g (250 ml) strooisuiker
2 ml sout
10 ml koeksoda
140 g (250 ml) koekmeel
160 g (500 ml) hawermout
80 g (250 ml) klapper

Verhit oond tot 160 °C. Smelt botter, stroop, suiker en sout saam in middelslagpot. Gooi in groot mengbak en voeg res van bestanddele by. Meng met houtlepel tot sagte mengsel. Spuit 24 holtes van ’n standaard- kolwyntjiepan goed met kleefwerende kossproei. Skep twee eetlepels van die mengsel in elke holte. Plaas in oond en bak vir 12 – 15 minute of tot goudbruin en gaar – die koekie word hard sodra dit afkoel, maar bly altyd effens sag.

The post Crunchies appeared first on SARIE.

Ná-kerk-jogurtbrood

$
0
0

Die jogurt gee die brood ’n sagte tekstuur. Ek sit ekstra smaak by met vars tiemie. 

genoeg vir 1 brood

45 ml heuning
100 ml louwarm water
250 ml dik jogurt
45 ml olyfolie
10 g kitsgis
500 g (890 ml) koekmeel
10 g sout
3 takkies vars tiemie, fyngekap

Plaas heuning, water, jogurt en olie in bak van elektriese menger. Voeg res van bestanddele by en meng tot sagte, kniebare deeg. Knie 5 – 8 minute of tot die deeg glad is. Plaas deeg in skoon bak wat met olie gesmeer is. Maak bak toe met kleefplastiek en laat rys 30 – 40 minute op warm plek tot dubbel in volume. Verdeel deeg in twee porsies en rol in twee lang worse van 20 cm lank elk. Spuit ’n broodpan van 20 x 10 cm met kleefwerende kossproei. Plaas die twee worse langs mekaar in die pan en laat weer rys op warm plek tot dubbel die volume. Verhit intussen die oond tot 180 °C. Bak vir 25 – 30 minute of tot brood goudbruin en gaar is. Laat afkoel op afkoelrakkie en sit voor met botter.

The post Ná-kerk-jogurtbrood appeared first on SARIE.

Melktert

$
0
0

Die vulsel is Nakkie Holm se oorspronklike resep.

genoeg vir 3 terte

KORS

  • 450 g (490 ml) botter
  • 420 g (750 ml) koekmeel
  • 2 ml sout
  • 190 ml yswater
  • 1 eiergeel
  • 15 ml asyn

VULSEL

  • 90 ml mielieblom
  • 150 ml (190 ml) suiker
  • 1 500 ml melk
  • 6 eiers, geskei
  • 5 ml vanieljegeursel

Kors

Rasper ¼ van botter by meel en sout. Vryf in, voeg yswater, eiergeel en asyn by en meng tot deeg. Gooi deegbal 150 keer op werkvlak. Laat rus 15 minute. Besprinkel werkvlak met ekstra koekmeel en rol deeg uit tot sowat 5 mm dik. Rasper tweede ¼ van botter op twee derdes van deeg en vou in drie (sodat daar botter tussen elke laag is). Verseël kante met koekroller. Rol die deeg uit en laat rus vir 15 minute. Herhaal proses met die twee uitstaande kwarte botter. Laat rus deeg in yskas vir 2 uur. Rol deeg op meelbestrooide werkvlak tot 5 mm dik uit. Sny kante reguit met ’n skerp mes. Spuit ’n 3 x 25 cm-emaljebord met kleefwerende kossproei en voer uit met deeg.

Vulsel

Verhit oond tot 180 °C. Meng mielieblom, suiker en melk saam in groot pot. Klits tot gladde mengsel. Plaas oor lae hitte en hou aan roer met draadklitser tot mengsel begin verdik – soos witsous. Hou aan roer tot mengsel gaar is, sowat 5 – 8 minute. Verwyder van hitte en laat afkoel tot louwarm. Voeg eiergeel en vanielje by. Klits eierwitte tot sagte punte vorm en vou by mengsel in. Verdeel tussen borde en bak vir 25 – 30 minute of tot goudbruin bo-op. Laat afkoel en sit voor.

The post Melktert appeared first on SARIE.

Hoenderkerrie-pot

$
0
0

6 porsies

• 15 ml sonneblomolie
• 15 ml botter
• 9 hoenderdye (met vel)
• 2 uie, in ringe gesny
• 3 knoffelhuisies, grofgekap
• 5 kardemomsade
• 1 stuk pypkaneel
• 1 lourierblaar
• 5 ml fyn gemmer
• 1 rooibrandrissie, fyngekap
• 5 ml matige kerriepoeier
• 5 ml borrie
• 5 ml fyn koljander
• 3 heel naeltjies
• 400 g gekapte tamaties (1 blik)
• 6 aartappels, geskil
• sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
• 3 kerrieblare

Verhit die olie en botter in die pot. Braai die hoenderdye tot lekker bruin. Haal dit uit en braai die uie tot sag en deurskynend, maar nie bruin nie. Voeg die knoffel en die speserye (behalwe die peper en kerrieblare) by en braai vir so 2 minute. Plaas die hoender bo-op die mengsel en skep die tamaties oor. Rangskik die aartappels bo-op en geur met sout en swartpeper. Voeg die kerrieblare by. Sit die deksel op en laat stadig prut vir 1 – 1½ uur.

 

The post Hoenderkerrie-pot appeared first on SARIE.


Pampoenkoekies met stroop

$
0
0

Hierdie stroopsoet lekkerny sal enige maaltyd opkikker. En met elke hap word jy teruggeneem na winters by Ouma en Oupa en ’n kombuis gevul met die lekkerste geure. 

sowat 20 koekies

• 500 ml gaar pampoen
• 120 g (215 ml) koekmeel
• 10 ml bakpoeier
• 2 ml sout
• 1 eier, geklits
• sonneblomolie om koekies in te bak

Stroop

• 15 g botter
• 300 g suiker
• 200 ml melk
• 15 ml mielieblom
• 175 ml koue water
• 1 kaneelstok

Druk die pampoen fyn en meng met res van die bestanddele behalwe die olie. Verhit die olie in ‘n pan en braai eetlepels vol beslag in warm olie tot bruin aan albei kante. Dreineer op kombuispapier. Maak die stroop: Verhit die botter, suiker en melk tot kookpunt. Meng mielieblom en water, roer by melkmengsel in en bring tot kookpunt. Gooi warm sous oor warm koekies.

The post Pampoenkoekies met stroop appeared first on SARIE.

Hoender-en-sampioenpastei

$
0
0

Daar is vir my niks wat so lekker is soos ’n heerlike hoenderpastei nie.

• 60 ml olyfolie
• 1 kg hoenderdye en -boudjies (met vel en been)
• sap van 1 suurlemoen
• 60 ml worcestersous
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 300 g preie (leeks)
• 30 ml olyfolie
• 30 ml botter
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 250 g sampioene, in skywe gesny
• 1 x 400 g-vel blaardeeg
• 1 geklitste eier

Verhit oond tot 180 °C. Gooi die 60 ml olyfolie in ’n oondbak en pak hoenderstukke in bak. Gooi suurlemoensap en worcestersous oor. Geur met sout en peper en maak bak toe met foelie. Plaas in oond en oondbak 1 uur. Haal foelie af en oondbak verder tot hoender mooi bruin is. Terwyl hoender in oond is, sny preie in skywe. Plaas in vergiettes en spoel goed af om van al die sand ontslae te raak. Verhit die 30 ml olyfolie en botter in ’n pan en voeg preie en knoffel by. Braai tot preie net sag is en voeg sampioene by. Braai verder tot sampioene en preie sag is. Haal hoender uit oond en laat effens afkoel. Verwyder al die vleis van die bene en breek in kleiner stukke. Meng hoender en preiemengsel en laat heeltemal afkoel. Skep in pasteibak van 26 cm in deursnee. Plaas ’n pastei-tregter in die vorm van ’n voëltjie in die middel van die vulsel. Sny lang stroke van so 2 – 3 cm uit die blaardeeg. Plaas dit op die vulsel om die rand van die bak. Smeer deegstroke met geklitse eier. Sny ’n groot sirkel uit res van deeg en maak ’n kruisie in die middel. Plaas deegsirkel bo-op vulsel en druk die voëltjie se koppie deur die kruisie sodat stoom kan ontsnap. Druk die deegsirkel vas op die strook om die rand. Smeer geklitste eier bo-op en plaas in oond. Oondbak 30 – 40 minute tot deeg goudbruin en bros is.

The post Hoender-en-sampioenpastei appeared first on SARIE.

Koue frikkadelle met kerriesous

$
0
0

Christel Lourens maak dié resep al 30 jaar, veral vir groot gesellighede. Ideaal op baie warm dae.

genoeg vir 38 frikkadelle

FRIKKADELLE

• 2 snye witbrood
• 5 ml fyn gemmer
• 5 ml borrie
• 5 ml fyn koljander
• 5 ml fyn komyn
• 15 ml kerriepoeier
• 15 ml sout
• 30 ml fyn appelkooskonfyt
• 1 eier
• 30 ml wit asyn
• 1 ui, in kwarte gesny
• hand vol pietersielie
• 1 kg maalvleis
• sowat 60 ml olyfolie

KERRIESOUS

• 3 eiers, geklits
• 185 ml suiker
• 20 ml kerriepoeier
• 1 ui, gehalveer en in skywe gesny
• 375 ml water
• 60 ml wit asyn
• 15 ml fyn appelkooskonfyt
• 2,5 ml mielieblom
• 2,5 ml fyn gemmer
• 2,5 ml fyn koljander
• 2,5 ml fyn komyn
• 2,5 ml borrie
• sout en varsgemaalde swartpeper
• vars koljanderblare

Frikkadelle Verhit oond tot 180 °C. Plaas al die bestanddele vir die frikkadelle behalwe die maalvleis en olyfolie in ’n voedselverwerker. Verpulp tot glad. Plaas maalvleis in ’n groot mengbak en voeg verpulpte mengsel by. Meng goed deur, sommer met jou hande. Gooi olyfolie in oondbak. Skep ’n hoogvol eetlepel van die maalvleismengsel uit en vorm in ’n bal. Pak frikkadelle in oondbak en plaas in oond. Oondbak 30 minute tot gaar. Haal uit en laat afkoel tot kamertemperatuur. Kerriesous Plaas al die bestanddele behalwe koljanderblare saam in ’n kastrol. Plaas kastrol op stoofplaat oor baie lae hitte. Verhit sous terwyl jy heeltyd roer, anders skif die eiers. Hou aan roer tot die sous verdik het – dit moet soos ’n dik vla wees. Haal af van hitte en laat afkoel. Roer nou en dan om te keer dat ’n vel bo-op vorm. Rangskik frikkadelle op ’n opdienbord en gooi van die sous oor. Skep res van sous in ’n bakkie en sit saam voor. Garneer met vars koljanderblare

The post Koue frikkadelle met kerriesous appeared first on SARIE.

Pynappel-wortelkoek

$
0
0

Koek

• 420 g (750 ml)
• bruismeel
• 15 ml koeksoda
• 1 ml sout
• 250 ml sonneblomolie
• 400 g (500 ml) suiker
• 4 eiers
• 320 g (750 ml) wortels, gerasper
• 1 x 440 g-blik pynappelmoes, gedreineer
• 5 ml kaneel

Versiersel

• 1 x 250 g-houer
• gladde maaskaas
• 80 ml kondensmelk
• sap en geel skil van 2 suurlemoene
• fyn kaneel vir oorsif

1. Verhit oond tot 180 °C. Sif meel, koeksodaen sout saam. Klits olie, suiker en eiers.

2. Voeg olie-mengsel by droë bestanddele enmeng goed.

3. Vou wortels, pynappelmoes en kaneel bymengsel in. Spuit ’n 30 cm-ringkoekpan goed met kleefwerende kossproei. Gooi beslag in die pan en bak vir 35 – 40 minute of totdat ’n toetspen skoon uitkom.

4. Keer uit op ’n draadrak en laat afkoel.

Wenk: Bak vir sowat 20 minute as jy ’n kolwyntjiepan gebruik, of tot ’n toetspen skoon uitkom.

Versier só: Meng maaskaas, kondensmelk, sap en skil van suurlemoen tot gladde mengsel. Skep mengsel bo-op koek en sif kaneel oor.

The post Pynappel-wortelkoek appeared first on SARIE.

Eiers met aspersies en spek

$
0
0

Jou gaste gaan vra vir nog!

genoeg vir 6

1 x 250 g-pakkie strepiespek

24 vars aspersies

olyfolie

sout en varsgemaalde swartpeper

12 eiers

Verhit oond tot 180 °C. Draai aspersies toe met spek. Pak op kleefvrye bakplaat. Sprinkel olyfolie oor en geur goed met sout en peper. Plaas in oond en bak vir 15 – 20 minute of tot goudbruin en bros. Kook intussen die eiers: Plaas die eiers in ’n kastrol en bedek met koue water. Sit kastrol op plaat op matige hitte en bring tot kookpunt. Kook 3 minute vir sagte eiers waarvan die geel nog loperig is, of langer as jy harder eiers verkies. (Kook 5 minute vir medium-hard en 10 minute vir hard.) Hou tyd van die oomblik dat die water begin kook. Haal kastrol van plaat af en gooi koue water oor die eiers sodat die kookproses stop. Sit voor met aspersies.

The post Eiers met aspersies en spek appeared first on SARIE.

Hertzoggies in ’n pan

$
0
0

Nostalgie op sy beste!

(16 – 20 blokkies)

  • 125 g botter
  • 210 g (160 g en 50 g) (190 ml en 60 ml) strooisuiker
  • 3 eiers, geskei
  • 300 g (535 ml) bruismeel
  • 30 ml yswater
  • 200 g appelkooskonfyt
  • 160 g klapper

Verhit oond tot 180 °C.Room botter en 160 g strooisuiker met ’n elektriese menger tot lig en romerig.Voeg eiergele by en meng goed. Voeg meel en yswater by. Meng tot ‘n sagte koekiedeeg vorm. Druk deeg in ‘n pan van 30 x 20 cm wat met kleefwerende sproei gespuit is. Smeer appelkooskonfyt oor.Klits eierwitte tot sagte punte vorm en voeg res van strooisuiker bietjies-bietjies by. Hou aan klits tot stywe punte vorm. Vou klapper in en smeer mengsel oor konfyt. Bak vir 15 – 20 minute of tot goudbruin. Laat afkoel en sny in 3 cm-blokkies.

The post Hertzoggies in ’n pan appeared first on SARIE.

Joghurt-room

$
0
0

’n Nuwe manier om jogurt en vrugte vir ontbyt voor te sit.
genoeg vir 6

  • 15 ml gelatien
  • 30 ml water
  • 375 ml melk
  • 375 ml Griekse-styl jogurt
  • 105 g (125 ml) strooisuiker
  • sap en skil van 2 lemmetjies
  • 80 g-boks framboosjellie
  • 125 g vars frambose

Sprinkel gelatien op water en laat staan tot sponsagtig. Plaas melk, jogurt,suiker, sap en skil van lemmetjie in middelslag- pot. Bring tot kookpunt terwyl jy heeltyd met ’n draadklitser roer. Verwyder van hitte en voeg gelatien by.Roer tot gladde mengsel. Verdeel mengsel tussen 6 houers van jou keuse (ons het konfyt- flesse gebruik).
Plaas vir 3 – 4 uur in yskas om te stol. Maak jellie aan volgens aanwysings op boks en laat koel af tot net voor dit begin stol. Verdeel tussen houers met gestolde jogurt. Pak frambose bo-op en laat stol verder in yskas vir nog 2 uur.
Sit voor.

The post Joghurt-room appeared first on SARIE.


Franse roosterbrood

$
0
0

Gebruik gister se brood vir dié resep.
genoeg vir 6

  • 125 g frambose
  • 125 g (155 ml) suiker
  • 30 ml water
  • 1 x 250 g-pakkie spek
  • 100 ml esdoringstroop (maple syrup)
  • 45 ml olyfolie
  • 4 eiers, geklits
  • 6 snye Franse brood (French loaf)
  • 15 ml fyn kaneel

Plaas frambose,suiker en water in middelslagpot.Bring tot kookpunt oor matige hitte.Laat kook tot gladde konfyt, sowat 20 – 25 minute, terwyl jy elke 5 minute roer. Laat afkoel. Verhit oond tot 180 °C. Pak spek op kleefvrye bak- plaat. Verf spek met esdoringstroop en bak vir 15 – 20 minute of tot spek goudbruin en bros is. Verhit olyfolie in braaipan tot warm. Doop brood in eier en plaas in warm pan. Sprinkel ’n bietjie kaneel oor.Braai sowat 3 – 5 minute per kant of tot goudbruin en gaar. Smeer frambooskonfyt oor en sit voor met spek.

The post Franse roosterbrood appeared first on SARIE.

Pienk doughnuts

$
0
0

Geur die doughnuts met ’n klein bietjie rooswater.
genoeg vir 12

  • 185 ml louwarm melk
  • 40 g (50 ml) strooisuiker
  • 80 g (85 ml) botter, gesmelt
  • 2 eiers
  • 1 x 10 g-sakkie kitsgis
  • 350 g (625 ml) koekmeel, plus ekstra vir uitrol
  • 10 ml rooswater
  • 195 g (310 ml) versiersuiker
  • 25 ml suurlemoensap
  • pienk koskleursel
  • sonneblomolie vir diepbraai
  • kaneelsuiker (meng 200 g suiker
    met 20 ml fyn kaneel)

Plaas melk, suiker, botter, eiers, gis, koekmeel en geursel in elektriese menger. Klits op hoë spoed met K-mengspaan tot die hele mengsel in een deegbal saamkom. Sit deeg in skoon bak. Draai toe met kleefplastiek en laat rys 45 – 60 minute op warm plek of tot dubbel die volume. Sprinkel meel op werkvlak, keer deeg uit en gebruik jou vingerpunte om deeg tot sowat 1 cm dik plat te druk. Druk sirkels uit met ronde koekiedrukker van 8 cm in deursnee. Vat ’n kleiner een van 2 cm en druk ’n gaatjie in middel van elke groot deegsirkel. Plaas sirkels op bakplaat wat met meel besprinkel is en laat rys tot dubbel die volume, sowat 30 minute. Meng versiersuiker en sap saam tot gladde mengsel. Kleur met koskleursel. Verhit genoeg olie vir diepbraai tot warm en plaas deegsirkels in olie. Braai 3 – 5 minute per kant of tot goudbruin. Dreineer op kombuispapier en rol in kaneelsuiker. Skep versiersel oor en sit voor.

The post Pienk doughnuts appeared first on SARIE.

Basiliekruid-rolletjies

$
0
0

Dit verg ’n bietjie tyd, maar dis die moeite werd.
genoeg vir 9

  • 500 g (890 ml) koekmeel
  • 50 g (60 ml) strooisuiker
  • 1 x 10 g-sakkie kitsgis
  • 10 g sout
  • 6 eiers
  • 250 g ongesoute botter, in klein blokkies gesny
  • 150 ml basiliekruidpesto
  • 3 wiele fetakaas
  • 1 eier, liggies geklits

Plaas koekmeel, suiker, gis, sout en eiers in elektriese menger se bak. Gebruik die K-mengspaan en meng die beslag sowat 8 minute op matige spoed totdat dit ’n stywe deeg vorm. Voeg botter bietjies-bietjies by tot alles ingemeng is. Die beslag sal ’n gladde voorkoms hê. Plaas mengsel in bak wat met olie gesmeer is. Bedek met kleefplastiek en laat rus oornag in yskas. Verhit oond tot 180 °C. Keer mengsel uit op meelbestrooide werkvlak en verdeel in 80 g-balletjies. Rol balletjies in worse van sowat 20 cm lank en druk effens plat. Smeer elke wors met ’n klein bietjie pesto en krummel feta oor. Rol op in spiraalvorm. Plaas in holte van kleefvrye kolwyntjiepan met 12 holtes. Laat rys op warm plek tot dubbel die volume, so 30 – 40 minute. Verf met geklitste eier en bak vir 20 – 25 minute of tot goudbruin. Sit louwarm voor.

The post Basiliekruid-rolletjies appeared first on SARIE.

Eiers met aspersies en spek

$
0
0

Jou gaste gaan vra vir nog!

genoeg vir 6

  • 1 x 250 g-pakkie strepiespek
  • 24 vars aspersies
  • olyfolie
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 12 eiers

Verhit oond tot 180 °C. Draai aspersies toe met spek. Pak op kleefvrye bakplaat. Sprinkel olyfolie oor en geur goed met sout en peper. Plaas in oond en bak vir 15 – 20 minute of tot goudbruin en bros. Kook intussen die eiers: Plaas die eiers in ’n kastrol en bedek met koue water. Sit kastrol op plaat op matige hitte en bring tot kookpunt. Kook 3 minute vir sagte eiers waarvan die geel nog loperig is, of langer as jy harder eiers verkies. (Kook 5 minute vir medium-hard en 10 minute vir hard.) Hou tyd van die oomblik dat die water begin kook. Haal kastrol van plaat af en gooi koue water oor die eiers sodat die kookproses stop. Sit voor met aspersies.

The post Eiers met aspersies en spek appeared first on SARIE.

Switserse muesli

$
0
0

Dit staan tradisioneel bekend as Bircher-muesli, en is basies rou hawermout wat geweek word in vrugtesap en jogurt. Heerlik en baie gesond!

2 groenappels

210 g hawermout (rolled oats)

250 ml lemoensap

80 ml heuning

500 ml Bulgaarse-styl jogurt

100 g pistasieneute, gekap

vars vrugte vir voorsit

1) Gebruik growwe kant van rasper en rasper die appel met die skil.

2) Plaas hawermout in mengbak en voeg appel en lemoensap by. Meng deur en laat staan 20 minute.

3) Voeg heuning by en meng deur.

4) Voeg jogurt by en meng goed. Skep in opdienbakkies. Sprinkel neute oor en sit voor met vars vrugte.

The post Switserse muesli appeared first on SARIE.

Viewing all 270 articles
Browse latest View live