Melinda Botma van Langebaan is mal oor kuier, kook en oudhede restoureer. Sy wil ’n reunie hou vir skoolvriende wat sy lanklaas gesien het, en sy reken ’n anderste teeparty in die aand sal werk. Groot lampskerms wat bo vintage-tafels sweef skep die atmosfeer. Teepotte vol wyn en vingerhappies sorg vir ’n kuier tot laat aand.
Melinda se spyskaart:
• Winkelhoender-springrolls
• Polenta-koekies
• Suurlemoen-meringuekoek
WINKELHOENDER-SPRING ROLLS
genoeg vir 10 rolletjies
• 1 gaar hoender, van die been af gevlok
• 10 ml vissous
• knippie strooisuiker
• 4 grasuie, fyngekap
• 30 ml oestersous
• hand vol spruite, gekap
• 1 klein wortel, gerasper
• 10 springroll velle
• 1 eierwit, effens geklits
• sowat 1L sonneblomolie, om die spring rolls in te braai.
Vlok die hoender van die been af. Meng al die bestanddele behalwe die fillodeeg en eierwit saam in ’n mengbak. Geur met sout en swartpeper. Plaas een vel deeg op jou werkvlak. Vorm ’n lang wors van die vleisvulsel en plaas dit aan die een kant van die deegstrook (daar moet sowat 3 cm spasie bo en aan die kante van die deeg wees). Verf die rand van die deeg reg rondom met eierwit. Vou die boonste rand oor die vleis en vou dan die twee lang sye om. Rol die deeg op sodat dit soos ’n sigaar lyk. Herhaal met die res. Verhit die olie in ’n diep pan tot warm. Die spring rolls moet taamlik stadig braai sodat die deeg gaar word. Braai tot goudbruin en dreineer op kombuispapier. Sit warm voor saam met doop sous van jou keuse.
POLENTA-KOEKIES
Die Franse maak ’n madeleine, ’n soet koekie wat jy saam met koffie kan eet. Hierdie is my sout weergawe met polenta.
genoeg vir 8
• 110 g fyn polenta
• 20 g (60 ml) koekmeel
• 5 ml koeksoda
• 100 g parmesaankaas, fyngerasper
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 40 g (45 ml) botter, gesmelt
• 2 eiers
• 160 ml karringmelk
• 12 salie blare
Verhit oond tot 180 °C. Plaas polenta, meel, koeksoda, kaas, sout en peper in ’n mengbak. Voeg botter, eier en karringmelk by. Roer tot gladde mengsel. Spuit ’n bakplaat goed met kleefwerende kossproei – of as jy ’n pan met vlak holtes het, kan jy dit ook gebruik. Skep mengsel in spuitsak met 1 cm-tuit. Plaas salie op bakplaat en spuit 3 cm lange worsies op die plaat bo-op die blare. Bak vir 5 – 8 minute of tot goudbruin en bros. Sit louwarm voor.
SUURLEMOEN-MERINGUEKOEK
genoeg vir 1 koek
• 4 gekoopte vanielje sponskoeke
• 200 ml limoncello liqueur
Vir Suurlemoen-room
• 1 x 10 g-sakkie gelatien
• 30 ml koue water
• 300 ml suurlemoensap
• 120 g suiker
• 200 g botter, gesmelt
• 8 eiers, geskei
• 2 heel eiers
• 200 g strooisuiker
Maak suurlemoen-room: Week gelatien in koue water tot sponserig. Meng suurlemoensap, suiker, botter, eiergele en heel eiers saam. Plaas mengsel in skoon pot. Verhit oor lae hitte en roer met houtlepel tot mengsel dik en romerig is, sowat 10 – 15 minute.
Mengsel is reg as dit die agterkant van ’n houtlepel bedek. Voeg geweekte gelatien by, roer tot gesmelt en hou eenkant. Gebruik skerp mes en sny elke koek in twee lae. Sny bokant van koek reguit af indien dit skeef gerys het. Plaas losboompan se ring op bord, maak pan se kante hoër deur bakpapier in 3 lae om ring te draai en stewig vas te bind met kombuistou.
Plaas eerste laag koek onderin pan direk op bord. Sodra suurlemoen-mengsel dik en amper gestol is, maar steeds vloeibaar, gooi dun lagie bo-op koek. Plaas tweede koek bo-op en herhaal die lae tot al die koek opgebruik is. Plaas in yskas en laat stol. Klits eierwitte tot stywe punte vorm en gooi strooisuiker stadig by. Hou aan klits tot blink. Verwyder bakpapier en haal ring versigtig af. Skep meringue bo-op en brand bruin met kombuisblaasvlam. Sit voor.
The post ’n Fees vir ou vriende: Nostalgies en eksentriek appeared first on SARIE.