’n Kaasbord sorg altyd vir ’n gesellige kuier, maar dit kos soms kopkrap om dit bymekaar te sit. Boonop het dié een ’n Suid-Afrikaanse geur. Die perfekte kaasbord? Ons dink so!
• Sit soetwyn-pere (resep hieronder) voor saam met ’n sterk bloukaas soos roquefort. Kry een wat plaaslik vervaardig word. Soetwyn sny deur die skerp sout smaak van die kaas.
• Rol sagte bokmelkkaas in fyn kruie.
• Meng 100 g pekanneute met 100 ml heuning en sit voor in potjies.
• Sit beleë parmesaan voor saam met groendruiwe soos hanepoot (wanneer dit in seisoen is).
• Twee soorte soutbeskuitjies is genoeg: een soort sonder koringmeel, soos rogbeskuitjies, en nog ’n soort van jou keuse.
• Mosbolletjies (resep hieronder) werk perfek saam met ons eie boerenkaas. As jy wil, kan jy ook koljanderpesto daarmee saam voorsit.
Soetwyn-pere
genoeg vir 12
• 6 pere
• 750 ml hanepoot
• 110 g (140 ml) suiker
• 50 g pampoenpitte, fyngekap
Skil pere met groenteskiller. Bring die wyn en suiker tot kookpunt in ’n groot kastrol. Sit geskilde pere in kastrol. Laat prut sowat 15 minute. Haal pere versigtig uit met gaatjieslepel. Rol onmiddellik in fyngekapte pampoenpitte en sit voor saam met kaas.
Mosbolletjies
genoeg vir 1 brood
Dit word tradisioneel met druiwemos gemaak, maar ons leen by die Franse en maak dit ons eie met anys.
• 1 kg (1 785 ml) koekmeel
• 100 g (120 ml) strooisuiker
• 2 x 10 g-sakkies kitsgis
• 45 ml anyssaad
• 20 g sout
• 12 eiers
• 500 g ongesoute botter, in klein blokkies gesny
• 1 eier, liggies geklits
• 80 ml heuning
• 45 ml botter
• 250 ml melk
Plaas koekmeel, suiker, gis, anyssaad, sout en eiers in elektriese menger se bak. Gebruik die mengspaan (K-beater) en meng die beslag sowat 8 minute op matige spoed totdat dit ’n stywe deeg vorm. Voeg botter bietjies-bietjies by en meng
tot alles ingemeng is. Die beslag sal ’n gladde voorkoms hê. Plaas mengsel in bak wat met olie gesmeer is. Bedek met kleefplastiek en laat rus oornag in yskas. Verhit oond tot 180 °C. Keer mengsel uit op meelbestrooide werkvlak en verdeel in 80 g-balletjies (dis belangrik om dit te weeg sodat elke porsie ewe groot is). Rol in balletjies en plaas in 30 x 10 cm-broodpan wat met kleefwerende kossproei gespuit is. Laat rys op warm plek tot dubbel in volume, sowat 60 – 90 minute. Verf met geklitste eier en bak 25 – 30 minute of tot goudbruin en gaar.
Smelt heuning en 45 ml botter saam. Voeg by warm melk en gooi oor mosbolletjies wanneer dit uit oond kom.
Pak alles mooi uit … en geniet!

FOTO Donna Lewis
The post Die perfekte kaasbord appeared first on SARIE.